Wenke vir jou en jou spruitjie vir Graad 1
Die eerste dag van graad 1 en Boet of Sus waai totsiens by die skoolhek, gewapen met splinternuwe skoene, ‘n netjiese gepakte kosblik en ‘n nuwe boeksak waar hy/ sy die nuwe lewe te gemoed sal stap. En terwyl almal die eerste paar weke die kinders se aanpassings angstig dophou, wag daar vir jou, mamma en pappa, ook net soveel aanpassings, want saam met Graad 1 kom ‘n heel nuwe leefstyl vir jou en jou kind.
Volgens Dr. Lenette Kruger, Opvoedkundige Sielkundige, is die volgende ’n paar van die uitdagings waarteen ‘n leerder vanaf Graad R tot Graad 1 te staan kom:
- Die aanpassing van die onderwyser as ‘n nuwe gesagsfiguur.
- Die aanleer van nuwe gedragswyses en roetines van die skool asook die klaskameromgewing.
- Die ontwikkeling van nuwe vriendskappe.
- Sosiale deelname in ‘n groep.
- Ontwikkeling van beginsels van wat reg en verkeerd is in ‘n sosiale situasie. Hulle leer deur reëls en riglyne vir aanvaarbare gedrag, waar beloning en straf, gedrag vorm.
- Uitbreiding van skolastiese vaardighede. Hulle bemeester grootmotoriese vaardighede soos spring, huppel, balans en begin aan sportsoorte deelneem. Fynmotoriese ontwikkelingsvaardighede word bemeester soos skryf, teken, verf en speel van musiekinstrumente.
- Denkvaardighede soos Wiskunde en Lewensvaardighede word vasgelê.
- Luistervaardighede word ingeoefen.
Hier is ‘n paar wenke vanaf Laerskool Elandskraal se Graad 1-Juffrouens om dinge te vergemaklik vir jou spruitjie hierdie eerste skooljaar:
Juffrou Ria Venter
- Gee jou kind die nodige roetine.
- Weet dat inskerpingswerk gedoen word op ‘n sekere tyd en weet om verantwoordelikheid te neem vir sy of haar skooltas en skoolklere.
Juffrou Edna Swart
- Sorg dat jy elke dag in jou kind se tas kyk.
- Moet nie snoepiegeld in die week gee nie, slegs op Vrydae.
Juffrou Monique Du Toit
- Dissiplineer jou kind tuis met reëls wat by die skool verleng kan word. En sorg dat jy konsekwent is. Dit help jou kind in die klas om gedissiplineerd op te tree.
- Doen op ‘n daaglikse basis huiswerk.
Dit is belangrik dat ouers te alle tye positief is gedurende hierdie tydperk, want kleuters is waarnemers van ouers se reaksies.
An-Louise Kruger en Zan-Celine Swart